Genadereën

Ella kom nie eens agter toe ‘n groot John-Deere trekker agter haar tot stilstand kom nie. Dit is Johan se buurman, Boet le Roux, wat langs haar kom hurk. Hy herken die jong gewese onderwyseressie dadelik waar sy op haar kniee geboë sit. Sy twee kinders het ook by haar klas gehad terwyl sy skoolgegee het. Hy herken egter ook die kind wat voor haar lê, steeds sonder enige teken van lewe. Ella kyk vinnig op na Boet, maar draai haar onmiddelik terug om voort te gaan met die mond-tot-mond asemhaling. Sonder ‘n woord buk Boet nader. Hy voel of hy enige pols of hartklop gewaar, maar daar is niks. Hy trek Ella aan die een arm weg en tel Mienkie se liggaampie op: “Kom, ek kan haar gou by die hospitaal kry!” skree hy bo die gedruis van die water uit. “Waar is Johan?”
Sy beduie met haar regterarm: “Johan het al verder stroom-af…. gedryf.” Sy is so uitasem en verslae dat sy sukkel om ‘n woord uit te kry.
Boet trek, met Mienkie dwars oor sy skoot, weg met die trekker en skree terug in haar rigting: “Ek stuur hulp!” Waar die teerpad aansluit by die plaaspad, tel hy Mienkie oor na sy bakkie. Sy vrou het met die bakkie agter hom aangery tot waar dit te gevaarlik begin raak het, en daar vir hom gewag. Toe die damwal gebreek het, het die water oor hulle plaas ook gestroom – gelukkig sonder enige skade aan hul woonhuis. Hulle het besef Johan se plaas is ook min of meer in die stroom se pad en het daarom in die rigting kom ry om seker te maak dat Johan-hulle ongedeurd is. Die swaar weer het toe alreeds die selfoonseine belemmer. Hulle het van die grondpad af gesien dat daar iemand in die moeilikheid is en het die trekker gaan haal om te kom help.
Boet en sy vrou jaag in dorp toe om Mienkie by die hospitaal te kry. “Ek weet nie, vrou. Daar het al te veel tyd verbygegaan wat haar brein nie suurstoftoevoer gehad het nie. Dit sal ‘n absolute wonderwerk wees as sy dit gaan oorleef.” Boet se vrou sit met die kind in haar arms, en bid namens haar pa dat sy sal lewe.
Die reën klaar vir ‘n wyle op. Ella sak net daar inmekaar waar Boet haar agtergelaat het. Die inspanning om haarself eers uit haar voertuig te verlos, die sterk stroom water wat sy moes trotseer, en die desperate poging om Mienkie uit die opdrifsels te trek en weer lewe in die klein lyfie te blaas, het sy tol geëis. Sy is gelukkig uit die pad van die stormwater, wat ‘n endjie van waar sy bewusteloos lê, verby woed.
Ten spyte van die reën wat opgeklaar het, word die nuutgekolfde rivier net al hoe sterker as gevolg van die damwal wat, soos tien jaar vroeër, weer meegegee het en die baie modder en opdrifsels wat die stroom aandryf. Enigiets wat nou in die stroom se pad kom, word eenvoudig meegsleur en vorm deel van die groter krag waarmee die water voortstu.
***********
Johan word eers bewus van die paramediese personeel toe hy op ‘n draagbaar gelig word. Iets moes hom hard teen die kop getref het in die gemaal van die modderwater. Hy kan nie veel onthou van die trauma wat hy beleef het nadat hy die veiligheid van die bakkie moes verlaat het in die massawater nie. Die reddingspan, wat deur die hospitaal vanaf die stad ontbied is, het hom uit die rivier gered, nadat hulle hom vanuit die helikopter raakgesien het. Hy word in die helikopter gelaai om na die hospitaal gehaas te word.

Johan protesteer egter: “Het julle my tienjarige dogter gesien? Ons kan nie gaan sonder om haar te kry nie, en Ella…”

Die paramediese personeel belowe om nog eers weer met die helikopter die terrein te deursoek. Hulle kry die bewustelose liggaam van die donkerkop meisie, soos hy haar beskryf het, ‘n hele ent terug en gaan land om haar ook op te laai en mediese hulp te bied. Daar is egter niemand verder in sig nie.

Ella herwin nie haar bewussyn voor hulle die ongevalle van die hospitaal bereik nie. Sy protesteer ook ernstig: “Waar is Johan en Mienkie?”
Johan word net na haar ongevalle toe gestoot. Hy baklei verwoed om op te staan. “Los my. Ek moet my dogter gaan soek. Mienkie…!”

‘n Verpleegster kalmeer hom egter met ‘n ligte verdowingsmiddel. ‘n Dokter ondersoek hom. Toe die dokter seker is Johan se toestand is stabiel, stoot hy hom na ‘n privaat kamer. Die dokter kom staan langs Johan se hospitaalbed. Sy stem is skor toe hy vir Johan die ergste nuus, wat hy ooit vir iemand moes meedeel, gee. “Johan, jou dogter … Mienkie … het dit nie gemaak nie. Ek is jammer.”

As jy van die uittreksel gehou het, klik hier om die boek te bestel