Ons boek

SMITH, NICOLAAS JOHANNES (NICO) (1929–2010) het aan die Universiteit van Pretoria studeer en was predikant van Benoni-Noord en Potchefstroom voordat hy en ‘n paar ander jong predikante van die NG “Moederkerk” hulle in 1957 vir die sending beskikbaar gestel het. Hy is na die Sibasa-sending-werkkring. Later was hy ‘n tyd lank die Noord-Transvaalse predikant in sinodale diens vir sending voordat hy in 1966 onverwags en met sterk mededinging as senior lektor na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch beroep is.

Tydens sy seniorlektorskap het hy sy doktorsgraad in sendingwetenskap verwerf en in 1975 professor geword.

In 1982 het hy sy professoraat neergelê en predikant van die NG Kerk in Afrika (NGKA) se gemeente Mamelodi geword. Ná aanvaarding van sy emeritaat in 1990, het hy in 1992 predikant van Melodi Ya Tshwane geword, en in 1994 weer geëmeriteer.

 

WAAR STAAN EK TANS?

My sekerheid oor God en wat in die Bybel geskryf staan, is deur my ervarings in die Suid-Afrikaanse situasie ingrypend aangetas. Wat in Suid-Afrika gedurende die apartheidsjare aan die gebeur was, het my daarvan oortuig dat sekerheid, in watter vorm ook al ‒ polities, godsdienstig, psigies ‒ eintlik die grootste vyand van ‘n regverdige samelewing is. Dit was immers deur al die politieke en godsdienstige sekerhede van wit mense dat swart mense in ons land oneindig veel ellende aangedoen is en selfs vandag nog aangedoen word. Op grond van wit mense se sekerheid oor wie God is en wat God wil, het hulle vir dekades lank, deur hulle kruisies by die stembus, daartoe meegewerk dat apartheid kon voortgaan om ‘n onregverdige samelewing in stand te hou. As dit van hierdie versekerdes afgehang het, het apartheid vandag beslis nog bly voortbestaan en sou hulle voortgegaan het om te glo dat alle swart mense maar net tot die God in wie húlle geglo het, bekeer moes word om die swart mense sodoende hulle lot met gelatenheid te laat aanvaar. Nou dat dit blyk dat die swart mense nie so geredelik tot die God oor wie die wit mense soveel sekerheid het te bekeer is nie, stuur kerke uit Suid-Afrika tientalle sendelinge om in verre lande ánder mense tot húlle geloof te bekeer ‒ dit terwyl miljoene swart mense rondom hulle nog in maatskaplike ellende moet voortleef.

As ek dan nie meer in die vaste sekerhede staan waarin ek voorheen gestaan het nie, waar staan ek dan tans? Eintlik staan ek nie meer nie, maar is ek op pad in ‘n voortdurende soeke na ‘n Godsbegrip wat daartoe sal bydra om ‘n regverdige samelewing in Suid-Afrika te vestig. Saam met miljoene ander oor die wêreld, en ek glo nog méér miljoene as die versekerdes oor God en die Bybel, is ek op soek ‒ altyd weer opnuut op soek ‒ na ‘n dieper en beter verstaan van die Bybel en van God ten einde ‘n dieper en beter verstaan van die mens en die wêreld te verkry om sodoende die mens tot groter diens te kan wees om geregtigheid en vrede na te jaag. Vir hierdie miljoene soekers saam met my het ek groot waardering. Dit is húlle wat deur die eeue heen vrae gestel het oor baie dinge, maar veral ook oor die sekerhede van die versekerdes. Vir hierdie soekers is alles beslis nie so seker en vas nie. Hulle stamel maar dikwels as hulle oor God praat, lê liewers hulle vinger op die mond en swyg maar liefs voor die aangesig van God.

Maar dis ook hiérdie soekers wat bereid is om verantwoordelik voor die aangesig van God te leef, asof sonder God, in die wete dat hierdie wêreld óns verantwoordelikheid is en dat óns dit moet hervorm sodat mense die lewe as sinvol kan ervaar. En hierdie sinvolle lewe word nie verkry deur mense maar net tot geloofsekerheid te bring nie. Hierdie wêreld sal deur die bly by en vashou aan wat aan mense oorgelewer is om te glo, dieselfde bly indien dit in wat geglo word maar net om ‘n persoonlike troos en sekerheid gaan. En wie nie omgee dat die wêreld dieselfde bly nie, gee nie om dat miljoene in die wêreld veronreg word en in ellende leef nie, solank hulle maar net bly by hulle geloof in God en die Bybel soos dit aan hulle oorgelewer is. Wanneer die wêreld as ‘n statiese gegewe wat deur ‘n statiese God in stand gehou word voortbestaan, getuig dit alleen van ‘n doodsheid wat beide in die gees van die mens en in die bestaan van die statiese God ingetree het.

Nou is dit so dat diegene met die sekerhede oor God en die Bybel, deur die eeue heen die soekers na ‘n beter en dieper verstaan van God en die wêreld beskou het as mense op ‘n dwaalweg en op pad na nêrens. Erger nog, die versekerdes glo dat hierdie soekers almal in die hel sal aanland. Die belangrikste omtrent die lewe is vir hierdie versekerdes immers dat hulle seker is dat húlle op pad hemel toe is. En wie nie weet waarheen hy/sy volgens die Bybel op pad is nie, beland aan die einde van die pad in die hel. Juis hiérdie soort denke vind ek so tragies omdat mense se sekerhede hulle ook veroorloof om presies te sê waarheen andersdenkendes op pad is en daar selfs ‘n soort behae in skep dat die soekers nie in húlle hemel sal aanland nie. Tog meen ek ‒ hóóp ek ‒ dat die hemel só ruim sal wees dat dit ruimte sal bied aan beide versekerdes en soekers. Maar oor die dood en daarna as die “lang-lang swygtyd” moet ‘n mens maar liefs ook nie met té groot sekerheid wil praat nie.

Dit het my laat besef dat my sekerhede oor God eintlik begin verkrummel het toe ek in Mamelodi, die swart woongebied by Pretoria, gaan woon het. Dáár moes ek ontdek dat die geloof in God en die Bybel waaroor die wit mense soveel sekerheid het, hulle toegelaat het om oor duisende armes en verdruktes op hulle drumpel heen te leef sonder om ooit van hulle notisie te neem. In Mamelodi het die armes en verdruktes tot God gebid om hulle te bevry uit hulle verdrukking wat die wit mense, wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle ook in God glo, op hulle, die swart mense, toegepas het. Wat die verdruktes in die Bybel gelees het was iets totaal anders as wat die wit bevoorregtes daarin gelees het. Vir die armes en verdruktes onder die apartheidsbestel het hulle geloof in God werklik gegaan om ‘n saak van lewe en dood ‒ van bevryding uit hulle verdrukking en ‘n geroep om ‘n beëindiging van die dood van honderde slagoffers deur die hande van (christen) soldate en Veiligheidspolisie. Wat ek van God geweet en geken het in die wit wêreld was inderdaad ‘n God oor wie ek maar ‘n baie beperkte en selfs verdraaide verstaan gehad het. Daarom het my Godsbeeld in die konteks van Mamelodi totaal verander en het die beeld van God vir my soveel ruimer geword as in die bevoorregte wit wêreld waarin ek geleef het.

En vir dié “ontdekking” sal ek immer dankbaar bly. Dit het my laat ontdek dat God soveel groter en dieper is as wat ek voorheen met my apartheidsdenke kon bykom. As ek dus sekerheid het oor God is dit alleen sekerheid oor die grootheid van God ‒ veel groter as wat my menslike denke ooit kan omvat. Oor wie God is en waar God te vinde is, het my konkrete belewenisse in Mamelodi my met veel minder sekerheid laat praat as wat ek voorheen oor God gepraat het. Te lank het ek vanuit ‘n stoere Gereformeerde geloof, gepaard met ‘n apartheidsgeloof wat daaruit voortgevloei het, gedink dat God wél volledig in die wit gemeenskap teenwoordig is en dáár óók volledig geken kan word.
In Mamelodi het ek tot die oortuiging gekom dat die God in wie versekerde wit gelowiges geglo het, oneindig veel smart moes beleef het oor diegene wat so seker was dat hulle in Hom glo en terselfdertyd meegewerk het om Sy beeld in swart mense so oneindig geweld aan te doen.